Ds. Alwyn Tredoux

Teksverse: Ef. 2:1-10

TEMA: Heilsorde 4: Geloof

Geloof is die definiërende eienskap van ons as Christene. Ons word
genoem “Gelowiges”. Geloof is die een ding wat ons anders maak as die
wêreld – die ongelowiges. Geloof is ook die band wat alle Christene
wêreldwyd saambind.

Ons het by die weergeboorte gesien geloof is die vrug daarvan. Die
geloofskiem word in die weergeboorte deur die Heilige Gees geplant. Die
een groot feit van die geloof is dat ons uit onsself nie kan glo nie.
Paulus beklemtoon hierdie feit in Ef. 2. waar Paulus die grote genade
van God beskryf.

In vers 1-3 beskryf hy hoe alle mense dood was in hulle sonde en deur
God gestraf moet word:

Ef. 2:1-3: “Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.

Kyk na die persoonlike voornaamwoorde in hierdie verse:

Hy begin deur te sê “julle” was dood. Hy praat dus met die Efesiërs,
mense uit die heidennasies wat God nie geken het nie. In hulle heidense
afgodsdiens was hulle eintlik besig om Satan self te dien deur hulle te
“laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou
aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.”

Maar dan slaan Paulus van “julle” af oor na “ons”. Hier praat hy van die
Jode en die apostels en hy wat Paulus is self. Ons kan dus sê alle
mense is “oorheers deur sondige begeertes en het gedoen net waartoe bose
luste gelei het en wat in hulle gedagtes opgekom het’.

Wat Paulus dus duidelik beklemtoon is die verdorwe staat van ALLE mense –
iets wat geen mens vryspring nie. Soos die kategismus dit so raak
beskryf – ons is uit onsself “onbekwaam tot enige goed en geneig tot
alle kwaad”.

Hierdie toestand van sonde beskryf Paulus as dood – ‘n geestelike dood
wat ons hele mens en alle mense raak.

Maar dan die ommeswaai: Van 4-7 beskryf hy die wonder dat God lewe gegee
het deurdat ons saam met Jesus opgewek is en saam met Hom ‘n plek in
die hemel gegee is:

Ef. 2:4-7 “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

Hierdie nuwe lewe van die mens – die lewe uit die dood – word gebou op
God se liefde en dan nie net liefde die gevoel nie. God se liefde is ‘n
liefde in barmhartigheid wat mense se nood raaksien en ‘n verskil daarin
wil maak.

In sy liefde red God ons uit die dood en gee die lewe. Hier op aarde ‘n
nuwe lewe uit die sondedood, maar ook die ewige lewe, waar selfs die
liggaamlike dood oorwin is, omdat ons saam met Jesus ‘n plek in die
hemel het.

Hierdie redding – uit die dood tot in ewige lewe – gee God uit genade.
So moet dit ook wees, die feit van die sondedood maak dit juis
onmoontlik om onsself te red en redding op enige ander plek as by God se
genade te kry.

En dan, so half uit die bloute, in vers 8-10 verskyn geloof skielik op
die toneel.

Ef. 2:8-10: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem
het.”

Dis interessant om te let hoe Paulus die hele storie beskryf. Die
opwekking uit die dood in Christus word selfstandig beskryf. Die geloof
word eers later genoem. Die werk van Christus is nie afhanklik van ons
geloof nie. Hoekom beklemtoon ek dit?

Een van die gevaarlikste dwalings in die Christelike kerk is die
implikasie wat ons baie kry dat geloof ‘n goeie werk van die mens is. Ek
verdien dan my saligheid deur my sterkte van my geloof. Dit kan nie
wees nie, nooit nie. Niemand kan uit homself glo nie. Die dood wees in
sonde, wat maak dat ons onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle
kwaad is, maak dat die geloof ook nie uit onsself gebore kan word nie.

Paulus beklemtoon: Hierdie redding kom nie uit julleself nie, dis ‘n
gawe van God. Geloof is ook ‘n gawe van God. Hierdie gawe ontvang ons
deur die werking van die Heilige Gees aan sy uitverkore kinders, soos
ons gelees het in Ef. 2:8,9. Die Gees werk deur die Woord om geloof te
laat groei tot ‘n vertroue in God wat kragtig in ons lewe sigbaar word.

Weereens moet ons sien hoe die Heilsorde ineengevleg is. Ek het aan die
begin gesê dat die Heilige Gees die kiem van die geloof in ons plant
wanneer die weergeboorte in ons plaasvind. Die geloof is die vrug van
die weergeboorte en ons kan nooit die weergeboorte en die geloof wat
daaruit ontstaan van mekaar skei nie.

Maar geloof kan ook nie bestaan sonder die Woord nie. Die Gees wek juis
deur die Woord die geloof in ons harte. Daar is ons weer terug by die
begin, die roeping, waarsonder ons nie kan glo nie. Die Woord, die
boodskap van die evangelie, die belofte van verlossing uit die sondedood
is die inhoud van die geloof. Geloof is nie ‘n leë glas nie – geloof is
propvol van die Water van die Lewe. Dis nie waar om te sê – soos baie
deesdae wil – jy kan eintlik maar glo wat jy wil, niemand kan vir jou sê
wat is reg en verkeerd nie. Daar is ‘n ware en valse geloof – en die
ware geloof het die suiwer Woord en die Boodskap van die evangelie as
inhoud. Die belangrikste is nie dat jy glo nie, maar wat jy glo.
Geloofsekerheid is nie om seker te wees dat jy glo nie maar om seker te
wees wat Christus vir my gedoen het.

Maar hoekom sê Paulus in vers 9 dat ons ook “deur die geloof” gered
word? Hoe pas dit in met die verlossing wat net deur Jesus plaasvind en
die geloof wat nie ‘n goeie werk van die mens is waarin enige
verlossingskrag sit nie?

‘n Ou beeld wat ons help om dit te verstaan is die beeld van hande.
Geloof is die Godgegewe hande waarmee ons die werk van Jesus vat en ons
eie maak. Dit wat jy deur die geloof jou eie maak, het jy, dis joune.
Christus het gesterf! Almal weet dit. Het hy vir jou gesterf? Dis die
verskil wat geloof maak.

Ons moet met die hande van die geloof verbete vasgryp aan die
geloofsinhoud – Jesus Christus. Die wonderlike is, die hande van die
geloof werk so dat ons Jesus so styf vashou dat Hy deel van ons word –
in ons. So ‘n geloof raak ons hele menswees.

Ons verstand word deur die geloof geraak sodat ons die Woord van God kan
ken en weet alles daarin is waar – so leer ons Jesus persoonlik ken.
Ons emosies word daardeur geraak sodat ons in alles ons toevlug en na
God neem en op Hom vertrou. Maar ook ons werke word daardeur geraak
sodat ons alles wat ons doen in ons stryd teen die sonde tot eer van God
doen. Die geloof van die gelowige maak iets wat soms ver en abstrak kan
klink – die Verlossing in Christus – iets konkreet en naby. So naby
soos in jou hart.

In hierdie geloof moet ons volhard. Twyfel is soms deel van geloof –
maar die volharding gebeur ook deur die Gees – soos ons later in die
heilsorde sal sien.

Kom ons probeer sewe punte onthou wat ons help om geloof mooi te
verstaan:

Die sewe dinge om te onthou van geloof

  1. Geloof is hande waardeur ons die werk van Christus vat.
  2. Geloof is kennis
  3. Geloof is vertroue
  4. Geloof kom van die Heilige Gees
  5. Deur die Woord
  6. Geloof het ‘n inhoud
  7. Geloof gaan oor in werke
Heilsorde 4: Geloof
Tagged on: