postheadericon Brief aan Efese

Ds. Alwyn Tredoux

Teksverse: Openb. 2:1-7

TEMA: Brief aan Efese

Inleiding

Ons het al so gewoond geword daaraan om lidmate van ‘n kerk te wees. Ons sien die kerk as nog ‘n vereniging soos die Voortrekkers. Jy kan deel wees as jy wil, solank dit nie te veel tyd of geld begin vra nie. Maar die kerk is veel meer – die liggaam van Jesus Christus. Ons kan en mag nooit die kerk losmaak van ons verhouding met Hom nie! Nêrens sien ons dit duideliker as in die sewe briewe aan die gemeentes in klein Asië nie.

Die skrywe van hierdie briewe is nie Paulus of Petrus of Johannes nie, dis Jesus self wat wys hoe Hy omgee en betrokke is by die kerk. Dit wat in die kerk gebeur of nie gebeur nie is vir hom belangrik. Jesus skryf in hierdie briewe elke keer met dieselfde patroon. Hy begin deur Homself bekend te stel. Dan skryf Hy oor die toestand in die gemeente met vermaning oor wat verkeerd en en prys oor wat reg gaan. Dan eindig Hy die brief met ‘n belofte vir die in die gemeente wat aan Hom gehoorsaam is.

Hier in Efese stel Hy homself spesifiek bekend as die een wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en tussen die sewe goue lampe rondgaan. Hoofst. 1:20 leer ons duidelik dat die sterre die leraars van die gemeentes is en die lampe die gemeentes self. Dit wys vir ons hoe belangrik die gemeente vir Jesus is. Hy hou die wat in die gemeente werk vas in sy hand. En hy gaan rond tussen die gemeentes. Hy is heeltyd betrokke by alles wat in die gemeente gebeur. Hy staan nie net op ‘n afstand en kyk nie. Ons moet dit baie goed besef ook hier in Kempton Park. Maar kom ons kyk vandag spesifiek mooi na wat Jesus sê oor wat in die gemeente in Efese aan die gang is, die toestand van die gemeente.

Jesus prys die gemeente eers in v. 2, 3. Hy ken alles wat hulle doen, hulle harde werk, sonder om moeg te word, waarmee hulle gedurig aanhou. Hy spesifiseer die werk: Hulle het dwaling bestry. In Efese was dwalinge van vroeg af ‘n probleem. Ons sien dit as Paulus aan Timoteus skryf in 1 Tim. 1:3 dat hy in Efese moet bly om mense wat vals leerstellinge versprei te verbied. 30 jaar later skryf Jesus Christus self deur Johannes aan Efsese. en Hy prys hulle vir die manier waarop hulle opgetree het teen die dwalinge.

Dwaalleraars het hulle ingewurm in die gemeente en hulself apostels genoem. In Efese het hulle tweede gekom. Daar is ondersoek ingestel na wat hulle sê en onderskei tussen waarheid en leuen. Hulle het die leuen beveg. Al was dit die ongewilde ding om te doen, het hulle enduit vir die waarheid baklei. Hulle het volhard, was bereid om baie te verduur, en het nie moeg geword nie.

Juis die getuigskrif maak Jesus se volgende woorde skokkend. Die stryd vir die waarheid beteken so min dat die Here sê: “As julle julle nie bekeer nie, sal ek die lamp van sy staanplek af wegvat!” Die gemeente moet hulle bekeer anders sal hulle plek donker word. God kan die gemeente se voortbestaan tot ‘n einde bring.

Watter sonde kan sulke gevolge hê? Jesus stel dit in v. 4: “Maar ek het dit teen julle: Julle het my nie meer so lief soos aan die begin nie!” In die 1953 vertaling word die woorde vertaal: “Julle het julle eerste liefde verlaat.” Dink aan ‘n jong bruid, malverlief vir ‘n paar maande. Maar dan begin sy gewoond raak aan haar man. Die huwelik is meer vervelig as opwindend en ‘n verwydering begin intree wat maak dat sy haar goed pak en loop. Dis hoe die gemeente in Efese was. Hulle het Hom nie meer lief soos aan die begin, toe hulle nog nuut en entoesiasties in die geloof was nie.

Wat Jesus sê wys hoe belangrik die liefde is. God noem dit die grootste gebod wat Hy van ons eis en die grootste gawe wat Hy vir ons gee. Liefde tot God kan nie losgemaak word van liefde tot die naaste nie. As ons God liefhet moet ons ander mense ook liefhê. Liefde tot God beteken ook liefde vir jou man en vrou en kinders, liefde vir jou medelidmate in die kerk, liefde vir jou vyande!

Liefde was verlore. Die innerlike verhouding met God is vervang deur uiterlike vorme wat mooi lyk – maar toe Samuel ‘n koning moes salf en hy sien Dawid se broer het hy gedink: “So moet ‘n koning lyk!” Maar die Here sê: “Kyk nie na die uiterlike nie, want Ek sien die hart.” Die uiterlike sonder ‘n liefdeshart beteken niks.

Hierin lê waarskuwing vir ons as doppers. Ons is goed met die uiterlike. Ons bestry dwaalleer en die suiwer Woord is vir ons belangrik. Ons is georganiseerd met ampsdraers en vergaderings en kommisies en allerande strukture. Die uiterlike bediening is vir ons baie belangrik. Ons soek huisbesoek by die dominee, en die ouderling en die diaken. Ons eredienste moet aan sekere vereistes voldoen. Ons sakramentbediening moet moet suiwer wees. Maar Jesus stel die waarskuwing duidelik: “Oppas!” Die uiterlike vorme mag nie die belangrikste word nie. Ons moet nie vergeet van ons eerste liefde nie. Ons moet nie vergeet nie – die kerk gaan in die eerste plek daaroor om God lief te hê en ons naaste lief te hê!

Ook in Kempton Park hoor ons die stem van Hom wat die sewe sterre in sy hand vashou en tussen die sewe gou lampe rondgaan. Wat doen ons? Nou en dan ‘n erediens bywoon, as ek niks ander het om te doen nie, betrokkenheid by iets anders in die gemeente, ek sal ouderling of diaken word as ek gevra word – maar dan nie my werk doen nie. Wat van die vreugde van liefde tot God en mekaar wat ons moet uitleef? Die waarskuwing kom – as ons ons nie bekeer nie, kan die lamp van sy staanplek weggeneem word!

Uiterlike volharding is belangrik. Ons moet volhard in die Woord en Sakramentsbediening. Jesus prys die Efesiërs oor hulle stryd teen die Nikolaite. Hulle het in daardie tyd vele mense verlei om verkeerde dinge te doen in die Naam van die Here. Ons moet die uiterlike geloofstryd stry, maar die uiterlike mag nie die fokuspunt word nie. Strategieë, langtermynbeplannings en sterk persoonlikhede mag nie die fokuspunt word nie. Ons moet sorg dat ons lief bly vir God en mekaar, dan sal die res vanself kom.

As ons God en mekaar liefhet sal ons tog graag elke Sonndag twee keer wil kom om hom te ontmoet in ‘n erediens, meer van Hom en mekaar wil leer by Bybelstudie, vir mense van Hom vertel soos ‘n bruid nie kan ophou om te praat oor haar eerste liefde nie. Ons sal dan graag wil fondse hê sodat die Woord kan voortgaan.

Ons moet fokus op die liefde. Uiterlike vorme is verpakking wat die liefde bewaar en uitdra na buite. Dis sinneloos om te fokus op verpakking en die liefde is nie daar nie! Dis soos om ‘n duur elektriese heining om jou huis te bou. Vyf groot honger honde te hê. Beste gewapende reaksie. Staalhek deure. Nuutste alarmstelsel. Maar jou huis staan leeg, niks kosbaar om te steel nie. Die veiligheidskenmerke is duurder as die huisinhoud. Dis die gevaar! Ons lê soms meer klem op die verpakking as die liefdesinhoud.

Soos ons sal sien in elke brief, eindig Jesus met ‘n belofte vir die wat luister na sy waarskuwing en gehoorsaam is en die oorwinning behaal. Kyk na vers 7: Die wat die oorwinning behaal, sal ek te ete gee van die boom van die lewe wat wat in die paradys van God is.

In die paradys het die boom van alle kennis en die boom van die lewe gestaan. Van die boom van die lewe kon Adam en Eva eet, net een boom se vrugte is verbied. Maar die sonde het lekkerder gelyk as die ewige lewe. Hulle eet die verkeerde boom. Sodat hulle nie by die boom van die lewe kon kom nie, het die Here hulle uitgejaag en die tuin met twee gerubs en ‘n vlammende swaard bewaak. Die lewensboom se vrugte sou ‘n ewige sondelewe gee.

Maar Jesus het gekom en die sonde oorwin en die ewige lewe verdien. Die wat in Hom glo kan in die paradys inkom en die boom van die lewe eet en by God wees in die ewige lewe van liefde.

Slot

God beloon liefde wat nie fokus op die uiterlike nie. Die vrugte van die boom van die lewe sal ons kos wees. Amen

Kommentaar is gesluit.