postheadericon Brief aan Pergamum

Ds. Alwyn Tredoux

Teksverse: Openb. 2:12-17

TEMA: Brief aan Pergamum

Inleiding

Die Woord is belangrik. Almal stem daarmee saam. Maar hoe kyk ons na die Woord?

Die brief aan Pergamum volg die normale patroon:

Eers stel Jesus homself bekend aan die gemeente as die skrywe van die brief.

Dan prys Hy hulle oor dit wat die gemeente reg doen.

Dan raas Hy met hulle oor dit wat hulle verkeerd doen.

Soos altyd eindig Hy met ‘n belofte vir die wat die oorwinning behaal.

Bekendstelling

Openb. 2:12: “Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:”

Jesus stel Homself bekend as Hy wat die skerp swaard met twee snykante het. Jesus verwys na sy verskyning aan Johannes in hfst. 1.

Openb. 1:16: “In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ‘n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.”

Die swaard uit sy mond verwys na sy Woord. Die swaard was vir die Romeine ‘n teken van gesag. Jesus se Woord is gesagvol. Die twee snykante wys dat sy Woord na twee kante sny, genade en oordeel. Jesus wil met Pergamum praat oor die Woord se werk in hulle gemeente. Is sy Woord in hulle gemeente ‘n swaard wat met gesag sny – in beide rigtings?

Jesus prys die gemeente

Weer begin Jesus met liefde. Hy prys die gemeente:

Openb. 2:13: “Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie.”

Ek ken die plek waar julle bly, Ek ken Pergamum. Pergamum was op ‘n heuwel gebou en dus ‘n natuurlike vesting in oorlogstyd. Die stad was ook bekend vir geleerdheid. Die Griekse kultuur was sterk in filosofie, letterkunde, argitektuur ens. Pergamum was ‘n sentrum van geleerdheid met ‘n biblioteek wat nagenoeg 200 000 boekrolle bevat het. In Pergamum is boekrolle wat gemaak is van dierevelle, veral skaapvelle, anders as papiri wat van plante gemaak is, vervaardig. Die naam van die stad is verewig deurdat die boekrolle na die stad vernoem is en die naam perkament gekry het.

Maar Pergamum was heidens. Al was daar tempels vir die hoofgod Zeus, Apollos en Atena het ‘n minder bekende god in Pergamum oorgeneem – Asclepius, god van geneeskunde. Hulle het hom Zeus Asclepius genoem en hom so verhef. Hy het die bynaam “verlosser” gekry.

Jesus sê in Pergamum staan die troon van Satan, hy bly daar. So word dalk verwys na Asclepiusdiens waar ‘n slangbeeld gebruik is. Op. 12 verwys na satan as die slang. Mense het gestroom na okkultiese genesingsdienste. Die Romeine het lankal die keiser seun van  god genoem en aanbid. In Pergamum is die eerste tempel gebou vir Augustus ‘n eeu vroeër. Hulle het die keiser en Asclepius verbind.

Christenvervolging was erg. Jesus se getuie, Antipas, is gedood. Later sou Christen beeldhouers eerder sterf as om beelde vir Asclepius te maak, maar oor die legende dat Antipas ‘n beeldhouer was wat geweier het om Asclepiusbeelde te maak is geen sekerheid nie. Ons weet net dat Antipas gesterf het vir Jesus Christus.

Maar in afgodsdiens en okkulte praktyke en vervolging tot die dood toe prys Jesus vir Pergamum. Julle bly aan my Naam getrou. Julle het julle geloof aan my nie afgesweer nie. Jesus wys dus hier op die een manier waarmee die woord gebruik word. Die Woord word gebruik om te bewaar. Die suiwer belydenis van wie Jesus is. Sy Naam as redder en gesalfde en Here het hulle bewaar. Hy is die verlosser en geneser, geen Asclepius nie. Hy is die Seun van God en koning van die wêreld, nie die keiser nie. Hy is Here van die heres, nie Zeus of enige ander afgod nie. Aan die belydenis het die Christelike gemeente in Pergamum pragtig styf vasgehou.

Jesus vermaan die gemeente

Maar weereens, soos met Efese, al kry ons hierdie pragtige getuigskrif, is dit weer vir die Here nie goed genoeg nie. In vers 14 sê Hy: Ek het ‘n paar dinge teen julle: Al die bewaring van die geloof, al die deurstaan van vervolging, al die stryd teen afgodery is nie genoeg nie, want die gemeente in Pergamum het ‘n probleem: Hulle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang, en wat die leer van die Nikolaiete aanhang.

Ons het al by Efese gehoor van die Nikolaiete. Wie hulle presies is, is nie bekend nie. Maar hulle het duidelik met ‘n valse leer die Christelike kerk in Klein-Asië binnegedring. Die leer het daarmee te doen gehad dat onsedelikheid wat teen die woord van God was, aanvaarbaar geword het. Van Bileam weet ons natuurlik baie. Ons kan amper sy hele verhaal self lees in Num. 22-25.

Balak van die Moabiete het Bileam geroep om vir Israel te vervloek. Die Here het Hom net toegelaat om hulle te seën. Die Engel van die Here het hom selfs laat waarsku deur ‘n pratende donkie! Maar toe Bileam klaar die Israeliete geseën het, het hy tog ‘n stekie ingekry. In Num. 25 lees ons dat Moabitiese vrouens met seksuele listigheid die Israelitiese mans verlei het om deel te neem aan hulle afgodsdiens. In Num. 31 vers 16 sien ons dat dit Bileam se slim plan was. Dit was waarskynlik die enigste manier hoe hy finansiële voordeel kon trek na sy mislukte vloeke!

Dis wat Jesus bedoel as Hy sê dat mense in Pergamum die leer van Bileam aanhang. Christene het begin om deel te neem aan die heidense feeste. Hulle het deelgeneem aan die onsedelikheid, prostitusie en ander dinge wat deel was van die lewenswêreld in Pergamum. Hulle het die leer suiwer gehou maar die etiese lewe laatval. En die kerk het dit maar toegelaat!

Die Here sê nie dat die kerk hulle aan die sondes oorgegee het nie, maar die wat dit gedoen het, is gelos om te begaan. Jesus praat hier baie duidelik van die tweesnydende swaard van die Woord van God, wat ook teregwysing oor die sonde behels, wat in die kerk van Pergamum nie gefunksioneer het nie. Die sonde het gegroei in die midde van die gemeente, maar niks is daaraan gedoen nie!

Ons as gereformeerdes is baie ernstig oor die Woordbediening, maar tog is dit so dat ook in ons kerke hierdie probleem begin insluip. Mense wil graag getroos word deur die Woord, ons wil graag hoor van liefde en genade, maar ons wil nie hoor van gehoorsaamheid aan God en oordeel as ons nie gehoorsaam is nie.

Die kerk word “people pleasers” en vergeet van Jesus Christus wat regeer met ‘n tweesnydende swaard wat uit sy mond uitkom! Die kerk moet presies wees soos ek daarvan hou, anders gaan ek na ‘n ander kerk toe. Vir my gaan dit oor my plesier en die dominee moet wees en praat soos ek verkies. Ipv ‘n tweesnydende sward word die Woord ‘n bottermessie waarmee ons brood aan altwee kante gebotter word.

Soos ons verlede week se aanddiens gesien het, is die rol van die tug hier van die uiterste belang. Veral in die dae van vandag waar verskeie onsedelike praktyke al hoe meer algemeen toeganklik word.  In ‘n tyd waar die kerk se rol meer belangrik word, word die kerk net stiller en stiller!

As ons nie ons werk doen nie, kom Jesus met ‘n waarskuwing: Anders kom ek na julle toe en ek sal daardie mense bestry met die swaard uit my mond. Hy sal self die skeiding tussen goed en kwaad bring! Maar nie net die wat sulke sondes gedoen het sal gesny word nie, maar die wat deur stilte en toelating medepligtiges was!

DIs die laaste punt wat ons wil bereik – dat Jesus ons self met die swaard uit sy mond kom tref!

Die belofte

Maar soos altyd is daar ook die troos vir die wat die oorwinning behaal. Die verborge manna en ‘n wit steen sal aan hulle gegee word. Die manna ken ons goed, die kos in die woestyn wat ‘n simbool word van die eenheid wat daar is tussen Jesus en sy volk. Hy wat versorg en lewe gee. Maar dis verborge, dus net vir almal nie, net vir die ware gelowiges.

Die wit steentjie kom uit die regspraak in die ou tyd. Swart en wit steentjies is gebruik om skuldige en onskuldige aangeklaagdes uit te wys. Jesus sal ons dus onskuldig vind as ons werklik in die lewe in en buite die kerk, as kerkrade maar ook as gelowiges, die onsedelikheid en praktyke van die bose daar buite bestry. As ons die tweesnydende swaard self opneem as die swaard van die Gees en deur die Heilige Gees gelei word en nie deur ons sondige natuur nie!

Die geskenk van vryspraak is ook nie net algemeen nie, dit word aan elkeen persoonlik gegee. Jesus sê Hy sal jou nuwe naam op die wit steentjie graveer. ‘n Naam wat net Hy ken en jy ken. Dis hoe spesiaal jy sal wees vir jou Verlosser! Jy sal die steentjie met die spesiale naam in ewigheid kan hê as ‘n getuienis dat jy ‘n oorwinnaar is. Een wat Jesus nie net by die naam geroep het nie, maar wat Hy ‘n nuwe naam gegee het. Soos Jakob en Abram van ouds nuwe name by God gekry het, sal jy ook ‘n spesiale plek hê in God se verbondsvolk!

Slot

Jesus het ‘n tweesnydende swaard wat uit sy mond kom. Die swaard is sy Woord wat vir ons ook die wapen word in ons geestelike stryd.

Kommentaar is gesluit.