postheadericon Brief aan Smirna

Ds. Alwyn Tredoux

Teksverse: Openb. 2:8-11

TEMA: Brief aan Smirna

Inleiding

Swaarkry is ’n realiteit vir mense op aarde – ook vir Christene!

Die brief aan die gemeente in Smirna wyk af van die normale patroon op ’n baie treffende wyse:

Ons kry die bekendstelling van Jesus as die skrywer van die brief.

En die belofte vir die wat die oorwinning behaal.

Maar die briefliggaam is ’n uitgebreide bemoediging vir die gemeente se swaarkry.

So begin Jesus die brief:

Openb. 2:8: “Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna: So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het:”

Soos in elke brief verwys die bekendstelling na die eerste keer wat Johannes vir Jesus sien in hfst. 1:

Openb. 1:17 en 18: “Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid;”

Smirna was in daardie tyd ’n baie mooi stad, vol ryk mense en het op baie gebiede, soos kuns en geleerdheid, baie invloed gehad. Mense het Smirna die bynaam “die eerste in Asië” gegee. Vir die mense in Smirna sê die Here: “Ek is die Eerste en die Laaste”.

Smirna is in die geskiedenis drie keer totaal vernietig en weer herbou. Vir hierdie mense in hierdie stad wat as te ware telkens uit die dood opgestaan het, sê Jesus: “Ek was dood en lewe weer.”

Maar vir die lidmate van die Christelike gemeente in Smirna het die bekendstelling besondere betekenis gehad. Dit vorm ’n fondament vir die bemoediging in swaarkry wat volg.

Ons kan sien dat die lidmate van die gemeente besondere swaarkry geken het. Maar die Here gee ook besondere troos.

  1. 1. Swaarkry

Openb. 2:9 Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.

Jesus noem drie eienskappe van die mense in die gemeente in Smirna:

Verdrukking, armoede en dat hulle slagoffers is van kwaadstokery.

Die groot oorsaak van die verdrukking was die Jode. Daar was ’n groot Joodse bevolking in Smirna. Hulle het uit hulle pad uit gegaan om in die Romeinse regering se goeie boekies te bly. Omdat hulle ook nie meegedoen het aan die afgodediens en keiserverering van die Romeine nie, het hulle graag die Christene by die Romeine aangekla oor baie dinge – om so die aandag van hulleself af te lei. Aanvanklik het die Romeine die Christene as ’n splintersekte van die Jode beskou. Die Jode het omtrent 80nC finaal ’n streep hierdeur getrek deur alle Christene vergoed uit die sinagoges te verban omdat hulle Jesus as die messias bely. So is die breuk tussen die twee godsdienste duidelik beklemtoon.

Die Jode het staatbeskerming ontvang en verseker dat dit nie waar sou wees van die Christene nie. Hulle het ryk geword deur vernuftige sakebelange, maar hulle het verseker dat die Christene net armer en armer word.

Hierdie werk van die Jode maak dat die Here sê hulle is nie regtig Jode nie. Hulle is eintlik lede van die sinagoge van Satan.

Hierdie tema kry ons regdeur die Nuwe Testament.

Johannes die doper:

Mat. 3 – Julle sê julle is kinders van Abraham, maar julle is kinders van slange.

Jesus self:

Joh. 8 – Die Jode sê hulle is kinders van God en van Abraham, maar hulle is kinders van die duiwel.

Paulus:

Rom. 2 – ware Jode is nie die wat besny aan die liggaam is nie, maar wat die besnydenis van hart deur die Gees ontvang het.

Hierdie swaarkry sou ook erger en erger word:

Openb. 2:10 Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

Die Jode gaan saam met die Romeinse owerheid werk om die Christene selfs in die tronk te laat gooi. Hulle en die Romeine word bondgenote, teenstanders van God en werktuie van die duiwel om die kerk te verdruk.

Vir Christene was doodstraf normaalweg iets wat uitgeloop het op die dood! Die dood is die hoogtepunt van die swaarkry.

Toepassing;

Ons ken swaarkry as Christene.

Armoede

Ouderdom

Siekte

Dood van geliefdes.

Groot fout om te dink dat Christenskap jou van swaarkry vrywaar. Die groot verskil tussen gelowig en ongelowig is nie die feit van swaarkry nie, maar dat die gelowige troos het in sy swaarkry!

  1. 2. Die troos
  2. 1. Troos in Jesus wat self swaarkry ken. Vers 9.

Sy verdrukking, armoede en kwaadstokery was nog veel erger. Hy ken en verstaan.

  1. 2. Troos in ’n gesindheid:

Vers 10: Moenie bang wees vir wat julle gaan ly nie.

Klink oorvereenvoudig, maar gaan oor die werk van die Heilige Gees wat geloof wek. Geloof en vrees werk nie saam nie – bekende tema regdeur die Bybel.

Vers 9: Fisiese armoede, vs. Geestelike rykdom.

Ons moet leer om die Geestelike as belangriker as die fisiese te beskou.

  1. 3. Troos in die beperking van lyding.

Vers 10: Tien dae lank baie swaarkry. Tien dae, wys op ’n tyd wat beperk is deur God. Swaarkry gaan verby en loop uit op ’n ewige heerlikheid.

  1. 4. Troos in die oorwinning oor die dood

Vers 10: Bly getrou tot die dood – en julle kry die lewe as kroon. Lewe as ’n wedloop met ’n oorwinnaarskroon wat wag – die kroon van die ewige lewe.

Jesus kan dit gee, want Hy het die dood oorwin. Vgl. die aanhef, Hy was dood en het weer lewe geword. Eerste en laaste, voor en na die dood regeer Hy. Wie deel aan Hom het, sal nooit die tweede dood – die oordeel van God, beleef nie (Vers 11).

Dood is nie meer straf nie, dis ’n oorgang na die ewige lewe en ’n afsterwing van sonde.

Slot

Erger as kop af kan dit nie. Dood is die ergste, maar dood is oorwin! Die gelowiges kry ewige lewe as oorwinnaarskroon. Die tweede dood sal ons nooit tref nie. Daar is geen verskrikking in die dood nie. Daarom, kan ons die tydelike swaarkry in die lewe met die regte gesindheid hanteer. Amen

Kommentaar is gesluit.