postheadericon Heilsorde 6: Regverdigmaking en Heiligmaking

Ds. Alwyn Tredoux

Teksverse: Rom. 8:1

TEMA: Heilsorde 6: Regverdigmaking en Heiligmaking

Pad geloop van roeping tot bekering:

Daar het nou baie dinge al in die mens op aarde gebeur. Jy het ontwikkel van ongelowige tot bekeerling. Jy is deur die Woord  en Gees van God geroep. Die Heilige Gees het deur die weergeboorte jou hart van klip in ‘n hart van vlees verander – vrugbare grond waarin die saad van die Woord kon groei. Jy het die geloof as ‘n gawe van God ontvang waardeur jy die weldade van Christus vir jou kon aangryp en jou eie maak. Jy lê jou toe deur die Gees op die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens – die bekering. Ons kan sê: “Jy is nou in Christus – Hy is nou jou Verlosser en Here, die doel en die oorsprong van jou bestaan.

Vandag sien ons dat met hierdie hele proses wat op aarde en in jou hart en lewe gebeur het – gebeur daar in der waarheid ook iets in die hemel.

Rom. 8 bou op dit wat Paulus in die vorige hoofstukke gesê het. Hy het in die eerste hoofstukke die mens se sondeverlorenheid verduidelik en hoe ons daaruit verlos is deur die werk van Christus en hoe ons daaraan deel kry deur die geloof. Maar dan eindig hy hfst. 7 met die erkentenis dat hy self nogsteeds vasgevang is in die sonde:

7: 21: “ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte”.

Daar is dus altyd die stryd in die gelowige. Die stryd tussen die goeie wat ons wil doen en die kwaad wat ons nie kan ophou doen nie. Ons mense kan hierdie probleem nie oplos nie. God los dit vir ons op.

Rom. 8:1: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”

Vir Paulus dan die wonder – hy weet Hy verdien veroordeling, a.g.v. sy sonde, maar tog is daar nie!

Hoe is dit moontlik?

Die oplossing is Christus. Wanneer ons in Christus is, met die ware geloof vasgebind is aan Hom, dan is daar geen veroordeling meer nie.

Rom. 8:3 “Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.”

Ons kan sonder veroordeling staan omdat Jesus in ons plek reeds die veroordeling gedra het! Veroordeling is ‘n regsbegrip. God kyk na ons as regter. A.g.v. ons sondes moes ons skuldig bevind word. Wanneer ons egter in Christus is kry ons deel aan die werk van Christus.

Christus is klaar veroordeel. Wanneer die Vader dus na ons kyk sien Hy ons nie as sondaars nie. Jesus het klaar in ons plek die oordeel behaal. Ons is vry. God as regter verklaar ons dus onskuldig omdat ons in Christus is en God ons deur sy bloed aansien. Dit ons noem ons regverdigmaking.

Maar daarmee is alles nie gesê nie. Ons is nou wel regverdig voor God, in Christus. Maar in onsself steeds vuil en vol sonde.

Rom. 8:2: “Die wet van die Gees wat jou in Christus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”

Paulus stel hier twee wette teenoor mekaar: Die wet van sonde en die wet van die Gees. Wanneer Paulus hier praat van wet bedoel hy nie die wet van die Here en die wet van Moses of enige landswette deur ‘n owerheid ingestel nie. Hy bedoel wet in ‘n baie ruimer sin. Sy bedoeling is hier eintlik iets soos ‘n natuurwet. Iets wat opgaan moet weer afkom. Dit word dan die wet van swaartekrag.

Net so is die mens ‘n sondaar. Die wetteloosheid van die sonde word in homself ‘n wet wat ‘n mens meer inhok as enige wet wat God ooit gegee het. Die mens is so vasgevang in die sonde dat daar geen uitkomkans is nie. Almal doen sonde. Die sonde is deel van die daaglikse lewe. Ons is vasgeketting in die boeie van ons sondige bestaan.

Net so seker as wat die mens sondaar is, so seker lei sonde tot die dood.  Die ewige dood waar God se toorn op die sonde volmaak sy hoogtepunt bereik. Die buitenste duisternis waar daar ‘n geween en ‘n gekners van tande sal wees. En hierdie ketting waarin ons vasgevang is, die mens wat sonde doen en wat dan lei tot die dood, noem Paulus dan die wet van sonde en dood.

Die mens kan homself nooit uit hierdie greep van die sonde bevry nie, hy is te vasgevang daarin. Die mens word in sonde ontvang en gebore en kan sy lewe lank nie daarvan loskom nie. Maar tog is die saak nie hopeloos nie. God gee ‘n ander wet. Iets wat van buite die mens kom – die wet van die Gees. Die Gees bring lewe, waar dood was. Die Gees bevry ons waar ons gebonde was. So seker as wat sonde dood bring, net so seker bring die Gees die lewe.

Die Gees bring dus ‘n nuwe wet wat die oue ophef en vervang. As ons dink aan die ou wet van sonde en dood as die wet van swaartekrag, dan neem die Gees ons weg na buite die atmosfeer. Daar waar geen swaartekrag is nie. Die wet van swaartekrag word dus heeltemal vervang deur die wette van gewigloosheid. So vervang die wet van die Gees die wet van sonde en dood heeltemal.

Maar Paulus sê nog ‘n belangrike ding. Die Gees werk in Christus. Die Gees maak ons lewend in Jesus Christus. Die werk van Christus is die bepalende faktor. Hy het die sonde oorwin aan die kruis. Hy het die dood oorwin deur uit die graf op te staan. Die werk van die Gees vind nou plaas in die versoeningswerk van Christus. Wat Christus vir ons gedoen het doen die Gees nou in ons. Die Gees laat ons stry teen die sonde sodat die oorwinning van Christus aan die kruis ook ons oorwinning kan wees. Die Gees lei ons op die pad van die lewe sodat ons saam met Christus kan lewe en kan deel in sy opstanding.

Hierdie verandering in ‘n mens is nie eensklap nie – dis ‘n proses. Die proses noem ons die Heiligmaking. Die Heiligmaking is die proses waardeur die Gees ons lei om meer en meer te word soos wat ons in Christus reeds is. Dink aan affirmative action – jy sit iemand in ‘n posisie waar hy nog nie hoort nie met die veronderstelling dat hy sal leer om die werk te doen.

In Christus is ons regverdig by God, maar onsself nog vol sonde – die Heilige Gees leer ons om beter te wees. Ons klim trappies om meer en meer te word wat ons reeds is.

Dit gebeur deur die proses van daaglikse bekering. In daaglikse bekering moet ons groei – nie heeltyd ons van dieselfde sonde bekeer nie – dan gaan ons nooit vorder, op met die trappe nie. Dan klim ons dieselfde trappie oor en oor.

Kommentaar is gesluit.