Is jy gered?
23 Maart 2008 09:30, Ds. Joop van Schaik
Skriflesing Romeine 10:5-15 Teksverse:9,10
Tema: Is jy gered?
As jy met die mond bely dat Jesus die Here is,
en met die hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het,
is jy gered!
Is jy gered? Dit is dalk ‘n vraag wat jy vir jouself al baie gevra het: is ek gered, gaan ek hemel toe? Soms word jy verskriklik benoud en jy wonder of, as jy nou iets sou oorkom, jy hemel of hel toe sal gaan. Soms wonder jy of dit wat jy al in jou lewe verkeerd gedoen het, jou werklik vergewe is. So raak jy paniekbevange en benoud, gespanne.
Vrydag het ons gevra: Wie sê jy is Jesus? Wat was jou antwoord? Jou antwoord moet wees: Here Jesus, U is die onskuldige, U is die Christus, die Seun van die lewende God, my Verlosser!
Vandag kom die vraag: Is jy gered? Hoe word jy gered? Ons gaan eintlik aan by waar ons Vrydag opgehou het. Vrydag het gegaan oor die kruisdood van Jesus Christus. Hy was totaal en al onskuldig gewees, máár daardeur het Hy in ons wat totaal en al skuldig is, se plek die straf gedra. Die aanklag van die Joodse Raad en die priesterhoofde, was juis dat Jesus erken het dat Hy die Messias, die Christus is, dat Hy die Seun van God is. Dít was vir hulle godslastering (Blasfemios) en daarom het hulle Hom gekruisig.
Broeder en Suster, vandag is dit Sondag, die dag waarop Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het. Wat sou gebeur het as Jesus Christus net eenvoudig dood gebly het? Dit sou beteken dat Hy net in ons plek gesterf het, maar nie in ons plek weer uit die dood opgestaan het nie. Dit sou beteken dat die sonde nie oorwin is nie, dit sou beteken dat Satan meer krag het as wat hy werklik het, dit sou beteken dat die wêreld reg is, dat gesê kan word: “kom laat ons eet en drink want môre sterf ons”. Dit sou beteken daar is nie ‘n lewe na die dood nie. Eintlik sou dit beteken dat almal hel toe moet gaan.
Met Rom.10:8 – 10 word genadiglik verkondig dat Jesus nie dood gebly het nie. Hier word aangekondig dat “Jesus die Here” is, dat God die Vader Hom uit die dood uit opgewek het, en omdat God Hom uit die dood uit opgewek het, is jy gered.
Met Romeine 10 haal Paulus aan uit Deut.30:12-14 wat deel is van Moses se afskeidrede tot Israel. Dit gaan oor gehoorsaamheid aan God, terugkeer tot God. Die middel om te wys dat hulle gehoorsaam was aan God, was om die gebooie en voorskrifte na te kom soos dit in die wetboek staan, en wanneer hulle met hart en siel terugkeer na die Here hulle God.
Hierdie wetboek was nie onbekend aan Israel nie, dit was nie weggesteek vir hulle nie, dit was nie onbereikbaar vir hulle nie. Dit was nie nodig om iemand te laat opklim na die hemel nie of om iemand daar ver oor die see te stuur om dit in die hande te kry nie. Die wetboek was sommer baie naby aan hulle, hulle kon gemaklik daaroor praat, hulle ken dit reeds en kon dadelik daarvolgens lewe.
Ongelukkig was daar leiers onder die volk Israel, wat verkondig het dat God ver weg is en jy kan net deur die stiptelike nakom van die wet “vryspraak” kry. Daar was vir hulle geen sprake van ‘n verhouding met God nie en jy moes dus self met jou wetsonderhouding, bepaal of jy verlos word of nie.
Dít is juis nié wat God gesoek het nie. Hy wou gehad het dat Israel die wet moet nakom omdat Hy hulle God is, omdat Hy hulle verlos van alles.
In die Nuwe Testament het dieselfde situasie hom afgespeel. Die Joodse Raad, priesterhoofde en wetsgesleerdes het die mense weer laat verval in ‘n wettiese lewe. Hulle het van die wet ‘n monster gemaak wat die onmoontlike van die mens eis. As jy hierdie wet nakom, dán sal jy in tel kom vir verlossing. Dit is glad nie hoe dit is nie! Die Christelike godsdiens plaas jou in ‘n persoonlike verhouding met God. God is nie iemand wat daar ver weg van jou is en dat jy maar op jou eie moet probeer klaarkom nie. God is by hier jou en deur Sy Heilige Gees ín jou.
Dit is waar hierdie aangrypende verse van Rom.10 mens aanspreek: “Naby jou is die woord.” Die griekse woord vir “woord” hier, is “rhema”. Ons is gewoond daaraan dat die griekse woord vir “woord” “logos” is. Hier is dit “rhema”, wat die anoniem van “logos” is. Rhema of logos, wys op wat gesê is, wat die boodskap is, wat verkondig word. In Johannes 1 word die naam “logos” aan Jesus gegee. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Die woord, die gekrewe woord het betekenis in Jesus Christus gekry. Die woord, die evangelieboodskap is na aan ons, baie naby aan ons, dit is in jou mond en in jou hart, presies dit wat in Deut.30:12-14 gesê word. Let op dit is in jou mond en in jou hart. Dit is deel van jou. Wat jy met jou hart voel, dit sê jy met jou mond.
Die woord, die boodskap met Jesus as inhoud, is die inhoud van jou geloof, jou godsdiens. Wat jy glo word dan “bely” (homologeo). Die “bely” beteken nie hier dat jy erken dat jy ‘n sekere sonde gedoen het nie. Die “bely” beteken dat jy erken en verklaar, dat jy instem en saamstem, dat jy naspreek wat waar is, dat jy presies sê wat jy glo, in wie jy glo, dat jy vertroue uitstraal, dat jy verbind is en lojaal is, dat jy in ‘n verhouding staan met die een in wie jy glo.
Nou, met jou mond bely jy dat “Jesus die Here is”. Jesus is nie maar net ‘n profeet en net ‘n mens soos enige ander mens nie. Here, “Kurios”, is ‘n Naam wat in die Ou Testament ook aan die Here God gegee is.
Met die naam Here word Jesus ook as God bely, gelyk aan God die Vader, een met God die Vader. Hy is die Heerser van alle heersers, die Koning van alle konings, die Enigste Verlosser.
Die motifering van wat jy met jou mond sê, wat uit jou uit kom, kom in wese van wat jy in jou hart glo, wat uit jou hart deur jou mond kom. Broeder en Suster, wat kom uit jou hart deur jou mond? Jy glo en bely dat Jesus die Christus, die Here, uit die dood uit opgestaan het. Jy moet dit enige tyd en op enige plek kan en wil en moet sê, sonder om bang te wees.
Met hierdie belydenis, was daar egter onmiddelik moeilikheid vir die Christene in die Bybelse tyd. Onmiddelik was daar botsing met die Sudduseërs. Hulle was ‘n Joodse Party, afkomstig uit die vooraanstaande priesterfamilies en die invloedrykes van die samelewing. Hierdie mense het nie geglo aan die opstanding na die dood of aan engele nie, dus ook nie in die opstandig van Jesus Christus uit die dood nie.
So, die oomblik as ‘n Christen gesê het dat hy of sy wel in die opstanding na die dood glo, dan het hy baie groot moeilikheid gekry. Die Sudduseërs was so bang vir die belydenis van die opstanding uit die dood, dat hulle die soldate wat by Jesus se graf wag gestaan het, omgekoop het om te sê dat Jesus se dissipels hom weggedra het, sodat dit maar net moet lyk of Jesus uit die dood opgestaan het. Ongelukkig vir hulle, Jesus het uit die dood uit opgestaan!
Gelukkig vir jou, Jesus het uit die dood uit opgestaan! Vir jou en my het die belydenis ‘n verskriklike belangrike betekenis. Omdat Jesus Christus werklik uit die dood opgestaan het, beteken dit dat jy as Christen ook DV eendag na jou liggaamlike dood tydens die wederkoms uit die dood uit sal opstaan. Dit beteken dat jy glo dat as jou liggaam nou sterwe, jou siel nie sterf nie, maar onmiddelik lewend sal oorgaan na Jesus in die hemel. Wat ‘n wonderlike versekering! Vertel dit vir mense wat op jou pad kom. Troos mense wat sterwend is hiermee. Troos mense wat geliefde aan die dood afgestaan het, met die blye boodskap.
Dit bring ons by Rom.10:10 wat nog meer goeie nuus vir ons bring: “Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek, en met die mond bely ons, en ons word gered.” Hier word nou van vryspraak en redding gepraat. Wat is vryspraak en redding? Jy is wel skuldig aan sonde, maar iemand anders neem die straf en skuld van daardie sonde. Iemand neem jou weg van die gevaar en sit jou weer waar jy was vóórdat jy sonde gedoen het. Jy word dus veilig bewaar en veilige gemaak. God die Vader kyk na jou asof jy nie meer sonde het nie. Jy is daarom vrygespreek en gered uit die kake van die dood en die kloue van Satan.
Jesus Christus is die EEN wat in jou plek die straf en skuld betaal het. Hy het aan die kruis vir jou gesterf en Hy het uit die dood uit vir jou opgestaan, en nou is jy deur Hom vrygespreek en gered. Op die vraag van vroeër: Is jy gered?, behoort jy dus nou met vrymoedigheid dadelik kan antwoord: Ja, ek is gered, ek is gered deur Jesus Christus wat uit die dood uit opgestaan het.
Broeder en Suster, daarom verkondig ons vandag: As jy met die mond bely dat Jesus die Here is, jou Here is, en met die hart glo dat God Hom uit die dood uit opgewek het, is jy gered! Hoe wonderlik!
SLOT:
Leef hierdie belydenis uit. God is naby aan jou met Sy Woord en deur Sy Heilige Gees. Maak van jou godsdiens ook ‘n hart saak. Glo van harte dat Jesus Christus jou Here is, dat Hy in jou plek gesterf het aan die kruis, dat Hy in jou plek uit die dood uit opgestaan het. Bely dit dan ook met jou mond, sê dit vir alle mense rondom jou. Sê dit as jou oortuiging sonder om bang te wees. Wys dat jy gered is met jou lewe . Deel die redding en verlossing met ander wat dit ook moet hoor en ook gered kan word.