postheadericon Jesus vra vir jou: Wie sê jy is Ek?

GOEIE VRYDAG 21 Maart 08 18:00, Ds. Joop van Schaik

Skriflesing Lukas 1:26-33 Teksvers 31

Matt.16:13-16 Teksvers 16

Matt.27:45-56 Teksvers 54

Tema: Jesus vra vir jou: Wie sê jý is Ek?

Die een vraag wat die wêreld omgekeer het, was, Wie is dié Jesus Christus? Aan Jesus self is baie gevra: Wie is jy en waar kom jy vandaan? Jesus het ook aan sy dissipels gevra: Wie sê julle is Ek?

Broeder en Suster, wie sê jy is Jesus Christus?

Vandag verkondig ons: Jesus die onskuldige, is vir jou die Christus, die Seun van die Lewende God!

Die donkerste dag in die middel van die dag het vir die wêreld aangebreek. Dis dié dag toe Jesus Christus daar aan die kruis gehang het aan spykers. Dis dié dag toe Jesus Christus van God verlate was en uitgeroep het: “My God, My God, waarom het u my verlaat!” (Ps.22:2). Jesus het sy Gees in die hande van die Vader oorgegee en Hy het vir God gevra om die mense te vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Weer ‘n keer het Hy hard uitgeroep en Sy laaste asem uitgeblaas.

Vir drie ure was dit stik, stik, donker nag, van 12:00 tot 15:00 die Vrydag middag. Terselfdertyd skeur die tempel se gordyn van bo tot onder, middeldeur. Die aarde skud, rotse het uitmekaar gebars, grafte het oopgegaan en mense het uit die dood uit opgestaan.

Die offisier en sy soldate wat vir Jesus bewaak het, was aangegryp, nee verstom, deur die dinge wat hier voor en met hulle gebeur. Wat vir ons verkriklik belangrik is, is wat hy en hulle gesê het. In die verskillende evangelies word twee dinge geskryf van wat hulle gesê het: “Hierdie man was werklik die Seun van God” (Matt.27:54; Mk15:39). “Hierdie man was werklik onskuldig” (Luk.23:47)

Ons begin hier met die getuienis van mense wat dit gesê het terwyl Jesus die angste van die hel beleef het. Maar waar kom dit vandaan en hoekom is dit dan so belangrik?

In die OT word dit geprofeteer dat die Messias sal kom, dat die Seun van God sal kom, dat die Verlosser sal kom. Nou het dit gebeur. (Kry daardie tekste).

Reeds voor Jesus se geboorte was daar al vir die mens Maria gesê:”31 Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee” (Lukas 1:31). Aan Josef is gesê: “21 Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matt.1:21) Daar is reeds gesê wat Jesus gaan wees en gaan doen: ‘n Verlosser.

Die Naam Jesus moet vir die mens wat nog gebore moet word, gegee word. Die naam Jesus beteken Verlosser. Die Naam Christus, beteken gesalfde of gestuurde. God het dit so beskik dat Jesus moes kom, en nou kom Hy. God het Self voorsien in ‘n oplossing en in verlossing deur Sy Seun Jesus Christus wat mens moes word. Hy wat God is, moes mens word.

‘n Mens het gesondig en ‘n mens moes die straf dra. ‘n Mens kan nie die straf dra nie, daarom moes Jesus wat waarlik God is, ook waarlik mens word. So sou Hy dan die straf kom dra, op daardie paasfees. Die paasfees was ‘n fees wat gehou was om die uittog uit Egipte te herdenk en God te dank vir daardie verlossing. Nou vind ‘n ander verlossing plaas, ‘n groter Verlossing, die verlossing van sonde.

Toe Johannes die Doper sy werk gedoen het, het die mense gedink hý is die Messias. In Joh.1:31 sê Johannes oor Jesus: “Hy is die Seun van God.” Toe Jesus Sy dissipels een vir een geroep het, het Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God:” (Joh.1:49).

Tot die duiwel het Jesus erken en uitgeken. Baie mense wat deur onrein geeste, dws, van duiwelbesete was, het in benoudheid en vrees hardop uitgeskreeu: “Wat het U met my te doen Jesus, Seun van die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!” (Markus 5:6-8).

‘n Blinde man het Jesus gehoor en uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my! (Mk.10:47). Jesus het aan ‘n Samaritaanse vrou verskyn en Hy het aan haar gesê dat Hy die Christus is. Sy het dit nie geglo nie en gaan vertel toe van Jesus aan die ander samaritane. Hulle het dadelik gekom en sommer dadelik bely dat Jesus waarlik die Verloser van die wêreld is (Joh.4:42).

Die gebeurtenis wat die gang van die kerk bepaal het in vandag se tyd, was dit wat in Matt. 16:15… gebeur het. Jesus het aan sy dissipels gevra, “wie sê die mense is Ek?” Hulle antwoord dat die mense sê dat hy Johannes die Doper is wat weer lewe, of Elia, of Jeremia of ‘n ander profeet.

Dan vra hy aan die dissipels: “Wie sê julle, is Ek?” Deur die werking van die Heilige Gees, sê Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Op die belydenis is die Christelike Kerk vandag nog gebou. Die kerk is nie gebou op die mens Petrus as rots nie, maar op wat hy geglo het en wat ons vandag glo.

Juis hierdie belydenis dat Jesus die Christus is, dat Jesus die gestuurde Verlosser is, het oorsaak dat Jesus gevange geneem is en gekruisig is. Die Jode wou Jesus glad nie erken as die Messias en Christus nie. Hulle het Jesus gekonfronteer: wie is jy en waar kom jy vandaan? Hulle sê vir Hom: “As jy die Christus is, sê dit vir ons”,en “Dan is jy die Seun van God?” Jesus antwoord, “ek sê dit vir julle, maar julle wil dit tog nie glo. Dit is soos julle sê: Ek is!” (Lk.22:67).

Hiervandaan is Jesus na goewerneur Pilatus oorgeplaas. Pilatus ondersoek die aanklag, maar kan nie enige skuld by Jesus kry nie. Hy sê vir die priesterhoofde en skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie” (Lk.23:4).

Pilatus stuur Jesus na Herodus Antipas. Hy was een van die seuns van Herodes die Grote en het op daardie stadium oor Galilea en Perea geregeer. Dis hy wat opdrag gegee het dat Johannes onthoof moes word. Herodus kon ook niks by Jesus vind wat straf of dood verdien nie. Weer kom Jesus by Pilatus. Hy wou Jesus vrylaat, maar die skare is waansinnig: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!”

Terwyl die verhoor plaasgevind het, het selfs Judas die verraaier teruggekom, sy omkoopgeld teruggegee en gesê: “Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.” (Matt.27:4). Net voordat goewerneur Pilatus Jesus oorgee, het hy sy hande sigbaar voor al die skare gewas en sê hy vir oulaas: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man.” (Mt.27:24,25). Tog sê die mense: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!”

So word Jesus oorgegee aan die bloeddorstige en goddelose massa. ‘n Onskuldige man word gekruisig. Jesus die Christus, die Seun van God word oorgegee in die mag van mense, om te stry teen die Satan, die sonde en die wêreld. Jesus het gesterf en die stryd in die hel gevoer. Terwyl hierdie stryd aan die gang was, kom die soldate en sê: “Hierdie man is die Waarlik die Seun van God, hy is werklik onskuldig.”

Broeder en Suster, wat sê jy van Jesus? Glo jy wat deur die Bybel vandag weer vir jou geleer word, of is jy dalk ook net ‘n saamprater of ‘n naprater?

Nee, jy en ek moet dit werklik glo dat Jesus Christus die Seun van die lewende God is. Jy moet werklik glo dat Jesus daardie dag, op daardie vrydag van die paasfees, aan daardie kruis vir jou gesterf het, in jou plek. Daardie grusame en wrede kruisdood het Hy ondergaan vir jou, sodat jy van jou sondes verlos is.

Jy moet vandag besef dat Jesus Christus totaal en al onskuldig was, maar die wêreld wou Hom straf as skuldige. Jesus was werklik onskuldig, want Hy het geen maar geen sonde gedoen nie. Tog het God juis vir Jesus gestuur, ‘n Christus gemaak, ‘n gestuurde gemaak, sodat Hy vir jou kan red. Jy en ek is skuldig aan sonde, maar Jesus sterf in jou plek, sodat jy nou as onskuldig gesien kan word, as onskuldig voor God staan, asof jy nooit sonde gedoen het nie. Jy is skoon gewas deur Christus, jy is verlos deur die Verlosser.

Jesus vra vir jou: Wie sê jý is Ek?

Antwoord Hom:

Jesus, U is die onskuldige, U is die Christus,

die Seun van die lewende God, my Verlosser!

Kommentaar is gesluit.