Die Nederlandse Geloofsbelydenis

Die regsininige Christelike belydenis van die Nederlandse kerke wat die
hoofinhoud van die leer in verband met God en die ewige saligheid van
siele insluit.

In ‘n tyd van groot vervolging van Protestantse Kerke is hierdie
Belydenisskrif deur Guido de Bres opgestel. Dit was in die jaar 1561 in
die Suidelike Nederlande (vandag België). Verskeie Sinodes in die 16de
eeu asook die Nasionale Sinode van Dordtrecht (1618-1619) het dit as een
van die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar.

Artikel 1 DIE ENIGE GOD

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en
enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig,
onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys,
regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

2 Kor. 3:17; Joh. 4:24; Jes. 40:14.

Artikel 2 DIE MIDDELE WAARDEUR ONS GOD KEN

Ons ken Hom deur twee middele:

Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van
die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle
skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge
van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos
die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die
mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker
en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in
hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan
Hom behoort.

Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1
Kor. 12; 1 Kor. 1.

Artikel 3 DIE GESKREWE WOORD VAN GOD

Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur
of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die
Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet.
1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy
knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op
skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet
geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike
Skrif.

2 Pet. 1:21; Ps. 102:19,. Eks. 17:14 (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22;
Eks. 31:18.

Artikel 4 DIE KANONIEKE BOEKE VAN DIE HEILIGE SKRIF

Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe
Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word
nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg:

Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis,
Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium, die boeke Josua, Rigters,
Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem
Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid, drie
boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete:
Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein
profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja,
Haggai, Sagaria en Maleagi;

die boeke van die Nuwe Testament, nl.: die vier evangeliste: Matteus,
Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van die apostels; die veertien
briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die
Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die
Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus,
Filemon en Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief
van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas
en die Openbaring van die apostel Johannes.

Artikel 5 DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF

Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om
ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons
glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die
kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige
Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys
daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge
wat daarin voorspel is, plaasvind.

Artikel 6 ONDERSKEID TUSSEN DIE KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE

Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde
en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus
Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van
die drie manne in die vuur, die Gesldedertis van Susanna, die Beeld van
Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die
Makkabeërs.

Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover
hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.

Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle
getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou
kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die
ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.

Artikel 7 DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat
alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer
word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word,
daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die
apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer
word nie – ja, al was dit ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel
Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord
van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit
duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte
volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense
ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die
gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van
persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid
van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is
immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps.
62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie
onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê:
‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4:
1), en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang
hom nie in die huis nie…’ (2 Joh. :10).

2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11-12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim.
1:3; Gal. 1:8-11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom. 15:4; Hand. 18:28-29; 1
Pet. 4; Luk. 11:13; 2 Tim. 3:24; 2. Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19;
Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh. 15:15; 1 Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1;
Joh. 4:25; Deut. 12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark. 7:7; Jes.
1:12; Hand. 1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4;
3:11; 1 Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps. 12:7; 19:8-9, 12; Deut. 4:6; 6:9,.
Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16, 18; 1 Kor. 8:6.

Artikel 8 GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE

Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ‘n enige
God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die
Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van
ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met
mekaar deel nie.

Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en
onsigbare dinge.

Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.

Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun
uitgaan.

Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is
nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en
die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe
op so ‘n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is.
Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die
Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die
Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie
gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die
Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader
was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van
gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n
laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en
barmhartigheid.

1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15;
Matt. 28:19; 3:16-17; Joh. 1:14; Mig. 5:1.

Artikel 9 SKRIFGETUIENIS OOR DIE LEER VAN DIE DRIE-EENHEID

Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as
uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die
getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige
Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is
nie nodig om hulle almal op te noem nie.

Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en
27: ‘En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons
gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy
hulle geskape’; Genesis 3:22: ‘Toe sê die Here God: Nou het die mens
geword soos een van Ons’. Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na ons
beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En
as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan.
Weliswaar sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die
Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie
duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van
die Vader gehoor, wat sê: ‘Dit is my geliefde Seun’ (Matt. 3:17). Die
Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van
‘n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges
hierdie formule deur Christus vasgestel: ‘Doop hulle in die Naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees’ (Matt. 28:19). In die Evangelie
van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: ‘Die
Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou
oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God
genoem word’ (Luk. 1:35); eweneens: ‘Die genade van die Here Jesus
Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy
met julle almal’ (2 Kor. 13: 13), en: ‘Want daar is drie wat getuig in
die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is
een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en
die bloed, en die drie is eenstemmig’ (1 Joh. 5:7-8).

Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone
in een, enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike
verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons
verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.

Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die werkinge van
die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur
sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed;
die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.

Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die
tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor
die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos
Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat
tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.

Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik
dié van die Apostels, Nicéa en Atanasius, en ook wat die ou vaders in
ooreenstemming hiermee besluit het.

Gen. 5:1. Matt. 3:16; 28:19; Luk. 1:35; Hand. 2:32; 2 Kor. 13:13; 1 Joh.
5:7; Hand. 2:32-33; 1 Pet. 1:2; 1 ]oh. 4:13-14; Gal. 4:6; Ef. 3:14, 16;
Tit. 3:4-6; Jud. :20-21; Rom. (6) 8:9; Hand. 10:38; 8:29, 37; Joh.
14:16; 15:26; 1:33; Sp. 25:27.

Artikel 10 DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS

Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die
eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie
gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy ‘n skepsel wees; Hy is een
wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van
die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb. 1:3) en in alles
aan Hom gelyk (Filp. 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie
slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende
getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word: Moses sê dat God die
wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan
het deur die Woord, wat hy God noem (Gen. 1:1 en Joh. 1:3). Die apostel
sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge
deur Jesus Christus geskep het (Heb. 1:2 en Kol. 1:16). So moet Hy wat
God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds
bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga:
‘Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid’ (Miga
5:1), en sê die apostel: ‘Hy is sonder begin van dae of lewenseinde’
(Heb. 7:3). Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons
aanroep, aanbid en dien.

Joh. 1:18, 34 en 49; 1: 14; Kol 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh.
8:24; 10:30; 9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Filp.
2:11; 2 Kor 5:19; Hand. 20; Ef. 3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb.
1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh.5:7, 14, 20; Op. 1-6; Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor.
10:9,. Gal 4:4; Miga 5:2; Kol 1:15; Ps. 2:7, 12; Heb. 13:8.

Artikel 11 DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES

Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en
die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van
albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die
Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en
heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige
God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Gen 1:1; Heb. 1:3; 11:3; Joh. 1:3; Ps. 33:6; Jer 32:17; Mal. 2:10; Joh.
1:3; 16:26; Ps. 104; Amos 4:13; Joh. 14:16, 26.

Artikel 12 DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE

Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil
sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks
geskep het. Hy het aan elke skepsel `n eie wese, gestalte en voorkoms en
onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer
hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om
die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die
engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te
dien.

Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep
het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van
God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die
duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel
as van alles wat goed is.

Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit
met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te
verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die
ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging.
Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat
daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs,
wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van
nature sleg is en nie sleg geword het nie.

Jes. 40:26; Matt. 28:19; 1 Joh. 5:15,. Hand. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11;
Rom. 8:9; Kol. 1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14;
Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2 Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand.
23:8; Matt. 4.

Artikel 13 DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD

Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat
vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy
heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy
beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat
gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en
goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en
regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose
mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan,
nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die
menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle
nederigheld en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons
verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leringe van Christus is om
slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense
daarvan te oorskry.

Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat
niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van
ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en
heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar
van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde
kan val nie (Matt. 10:29-30).

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande
in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan
aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die
Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die
toeval oorlaat.

Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13; Job 1:21; 2 Kon.
22:20,. Hand 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6;
Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9;
Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10;
Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh 3:8; Gen 1:26; Kol. 1:15; 3:10.

Artikel 14 DIE SKEPPING VAN DIE MENS, DIE SONDEVAL EN DIE GEVOLGE DAARVAN

Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het
hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed,
regverdig en heilig sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon
ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en
sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord
van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee
aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van
die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde
losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur
verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het
deur dat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword
het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy
het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat
egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig
wat in ons is, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons
leer: En die lig skyn in die duisternis, en die duistemis het dit nie
oorweldig nie’ (Joh. 1:5), waar die heilige Johannes die mense
duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die
vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as n slaaf van die sonde is nie en:‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie
uit die hemel gegee is nie’ (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal
roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê:
`Niemand kan na My kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek
nie’ (Joh. 6:44)?

Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat ‘…wat die vlees bedink,
vyandskap teen God is’ (Rom. 8:7)?

Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die
Gees van God nie aanneem nie (1 Kor. 2:14)?

Kortom: Wie sal ook maar op ‘n enkele gedagte roem as hy verstaan dat
ons uit onsself nie bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie maar
dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor. 3:5)? Daarom is dit reg dat wat
die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy
maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp.
2:13).

Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die
verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand
gebring het nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: ‘Sonder My kan julle niks
doen nie’ (Joh. 15:5).

1 Pet. 2:9; Pred. 12:7; Ps. 8:5; 49:21; Jes. 59:2; Gen 3:17, 19; Pred.
7:30,. Rom. 5:12; Joh. 8:7; Ef. 4:24; Rom. 12:2; 3:10; 8:6; Hand. 14:17,
Rom. 1:20-21; Hand. 17:27; Ef. 4:18; 5:8; Joh. 1:5; Ps. 37:9; Jes.
26:12; Ps. 94:11; Rom. 8:3; 1 Kon. 20:9; Ps. 28:8; Jes. 45:25; Joh.
3:27; 6:44 (1 Kor. 2:14); 2 Kor. 3:5; Filp. 2:13.

Artikel 15 DIE ERFSONDE

Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele
menslike geslag uitgebrei het. Dit is ‘n verdorwenheid van die hele
natuur en ‘n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in
die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens
allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en
gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te
verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak
of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie
verdorwenheid opborrel soos water uit ‘n giftige fontein. Dit word die
kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy
genade en barmhartigheid vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in
die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie
verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie
liggaam van die dood verlos te word. Ons verwerp hiermee die dwaling van
die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit
navolging ontstaan nie.

Ps. 51:7; Rom. 3:10; Joh. 3:6; Gen. 6:3; Ef. 2:5; Job 14:4; Rom. 5:14;
7:18-19.

Artikel 16 DIE EWIGE VERKIESING VAN GOD

Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die
eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos
Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy
dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het
hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in
aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in
Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle
val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.

Rom. 3:12; 9:16; Deut. 32:8; 1 Sam. 12:22; Ps. 65:5; Mal. 1:2; 2 Tim.
1:9; Rom. 9:29; Tit. 3:4-5; Ef. 1:4-5; Rom. 11:5; Hand. 2:47; 13:48; 2
Tim. 2:20; Rom. 9:11; 1 Pet. 1:2; Rom. 9:21; Joh. 6:27, 44; 17:9,12;
Joh. 13:9; 15:16; Rom. 11:34-35; Joh. 18:20; 15:19; Tit. 1:1; Ef. 1:3;
Joh. 10:29; Matt. 15:24; 20:23.

Artikel 17 DIE VERLOSSER DEUR GOD BELOOF

Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens
weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die
liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en
al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe getroos met die
belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak – sy Seun, wat
uit ‘n vrou (Gal. 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te
vermorsel (Gen. 3:15).

Gen 3:15; 22:18; Jes. 7:14; Joh. 7:42; 2 Tim. 2:8; Heb. 7:14; Joh. 1:14;
Gen. 3; Gal. 4:4.

Artikel 18 DIE MENSWORDING VAN JESUS CHRISTUS

Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die
heilige profete inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige
Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die
gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Filp.
2:7) deur werklik ‘n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar
sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd
Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ‘n
man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike
natuur aangeneem nie maar ook ‘n egte menslike siel om so ‘n werklike
mens te wees.

Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red,
aangesien beide verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers,
wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het,
bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders
deelagtig geword het (Heb. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, ‘n
nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid
(Hand. 2:30 en Rom. 1:3), ‘n vrug van die moederskoot van Maria (Luk.
1:42), gebore uit ‘n vrou (Gal. 4:4), ‘n spruit van Dawid (Jer. 33:15),
‘n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda
afstam (Heb. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die
geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en
in alle opsigte – maar sonder sonde – aan sy broers gelyk geword het
(Heb. 2:17 en Heb. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel
is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23).

Filp. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11;
Hand. 13:23; 1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19;
Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom. 9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16.

Artikel 19 DIE TWEE NATURE VAN CHRISTUS

Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun
onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar
dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in
een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe
behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder
begin van dae of lewenseinde (Heb. 7:3) en hemel en aarde vervul, só het
ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel
gebly, wat wel ‘n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou
wat by ‘n ware liggaam behoort.

Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheld gegee het, het Hy
die egdieid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid
en ons opstanding ook van die egdieid van sy liggaam afhanklik is.
Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs
deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.

Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus
‘n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike
natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig
gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om
in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy ‘n klein kindjie was, al het
die Godheid Hom toe ‘n kort tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom
dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te
oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te
kon sterwe.

Matt. 28:20; Joh. 10:13; Ef. 4:8, 12; Heb. 7:3; Matt. 26:11; Hand. 1:11;
3:21; Luk. 24:39; Joh. 20:25; Hand. 1:3; Matt. 27:50.

Artikel 20 GOD SE REGVERDIGHEID EN BARMHARTIGHEID IN CHRISTUS

Ons gee dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur
het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem.
Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf
vir die sondes deur sy allerbitterste lyding en sterwe dra. So het God
sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê
het, en só sy goedheid en barmhartigheld uitgestort oor ons, wat skuldig
was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur
die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee, en Hy het Hom tot
ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die
ewige lewe kan hê.

Heb. 2:14,. Rom. 8:3, 32; 4:25.

Artikel 21 DIE VERSOENING DEUR CHRISTUS

Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ‘n eed – ‘n ewige Hoëpriester is
volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy
Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan
die kruishout te offer en sy kosbare breed tot afwassing van ons sondes
uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan
geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van
God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos
‘n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is’ (Jes.
53:5, 7, 9); dat Hy as ‘n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is
al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie
geroof het nie (Ps. 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir
onregverdiges gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons
sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat
op die grond val (Luk. 22:44), en Hy het uitgeroep: ‘My God, my God,
waarom het U My verlaat’ (Matt. 27:46).

Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê
daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks
anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die
gekruisigde (1 Kor. 2.2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om
Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Filp. 3:8);
dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander
middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as
slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die
gelowiges vir altyd volmaak word (Heb. 10:14).

Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is
Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt.
1:21).

Ps. 110:4; Heb. 5:10; Rom. 5:8-9; Kol. 2:14; Heb. 2:9, 17; Rom. 4:25;
Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5, 7;
Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Matt. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6;
Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filp. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet.
1:18-19; Joh. 10:9; Heb. 9:25-26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand.
4:12; Luk. 1:31.

Artikel 22 ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF

Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam
om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof
omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en
soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net twee moontlikhede: In
Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit
is alles wél in Hom, en dan het hy wat wat Jesus Christus deur die
geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie
genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou
gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n
halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur
die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is
(Rom. 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons
regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons
Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons
Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy
heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die
geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom
verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as
genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.

Ps. 51:8; Ef. 1:17-18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal 2:21; Jer. 23:6; 1
Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20, 28; Gal.
2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29, 33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3, 5,
9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24, 27; Filp. 3:9; 2 Tim.
1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.

Artikel 23 ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD

Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes
om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin
bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se
geluksaligheld daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die
wetsonderhouding om toereken (Ps. 32:2 en Rom. 4:6). Dieselfde apostel
sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die
verlossing wat in Jesus Christus is (Rom. 3:24). Ons hou daarom hierdie
grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom,
erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons
verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die
gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in
Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die
gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons
vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons
eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te
bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter
geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak,
sou ons – helaas! – verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met
Dawid sê: ‘En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat
leef, is voor U aangesig regverdig nie’ (Ps. 143:2).

Heb. 11:7; Ef. 2:8; 2 Kor. 5:19; 1 Tim. 2:6; 1Jjoh. 2:1; Gen. 3:7 (Rom.
5:19); Rom 4:6; Hand. 4:12; Eseg. 36:23, 32; Deut. 27:26; Jak. 2:10; Ps.
143:2; Luk. 16:15; Job 1; 1 Kor. 4:4; Ps. 18:28; Sef. 3:11; Heb. 10:20.

Artikel 24 ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die
hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat
die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n
nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom
is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir
‘n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou
daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie maar slegs uit liefde
tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik
dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons
praat mos nie van `n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ‘n
geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6), wat die mens
beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord
beveel het.

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof
voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy
genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie,
want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons
goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min
as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.

Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons
tog kon verdien?

Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl
Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk.
Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp.
2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: `…wanneer julle
alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike
diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen’ (Luk.
17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar
dit is deur sy genade dat Hy sy gawe bekroon. Verder, al doen ons ook
goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want
ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook
strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die
herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op
hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger
sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit
nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun
nie.

Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb.
11:6; 1 Tim. 1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17;
Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4; 1 Kor. 4:7; Filp. 3:13; Jes. 26:12;
Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op. 2:13; 2 Joh. :8; Rom.
11:5 (6-7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom. 10:11;
Hab. 2:4.

Artikel 25 DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL

Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van
Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het.
Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word.
Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus
bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle
vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die
profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons
lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18.

Artikel 26 CHRISTUS ONS VOORSPRAAK

Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die
enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het
juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur
verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê,
anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat
die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy
verhewenheid laat terugdeins sodat ons ‘n ander middelaar na ons eie
insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde
onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie,
Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het
deur vir ons die gestalte van ‘n mens en van ‘n slaaf aan te neem en aan
sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filp. 2:6-7 en Heb. 2:17).
As ons dus moes soek na ‘n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees,
wie sou ons dan kon vind wat groter befde vir ons sou hê as Hy wat sy
lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)?
En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as
Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en
op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die
eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat
hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van
hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of
gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het,
soos dit uit hulle geskrifte blyk.

Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is
mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor
God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en
waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid
deur die geloof. Daarom sê die apostel – wanneer hy hierdie dwase vrees
of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem – dat Jesus
Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy ‘n
barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van
die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié
help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om
na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: ‘Terwyl ons dan n groot Hoepriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word' (Heb. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: 'Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus ... laat ons toetree metn waaragtige hart in volle
geloofsversekerdheid…’ (Heb. 10:19, 22). En voorts: ‘maar Hy, omdat Hy
vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie.
Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy
altyd leef om vir hulle in te tree’ (Heb. 7:24-25). Wat kom daar dan nog
kort, aangesien Christus self sê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die
lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh. 14:6)?

Waarom sou ons ‘n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om
ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om ‘n
ander een te neem of liewer ‘n ander een te soek sonder om hom ooit te
vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons
sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse
Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die
gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die
Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23).

1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19;
Jer 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef.
3:19; Filp. 2:7; Joh 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3, 7; Jes. 55:1-3; Matt.
11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9;
Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer 2:5; Heb. 4:14, 16; Jer. 17:5, 7;
Heb. 2:17-18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps.
44:(21) 6; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13;
Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.

Artikel 27 DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK

Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige
vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle
saliheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en
verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van
die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ‘n ewige
Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk
word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit
soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof
dit tot niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike
tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel
het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of
bepaal tot `n sekere plek of sekere persone nie, maar is die oor die
hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur
die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20; 2 Sam. 7:16; Luk. 1:32;
Ps. 89:37; 110:4; Gen. 22; Rom. 11; 1 Kon. 19:18; 2 Tim. 2:19; Luk.
17:21; Matt. 11:25; Hand. 4:32; Ef. 4:4; 1 Pet. 3:20; Gen. 22:18; Matt.
16:18; Jes. 1:9; Rom. 9:29; ]oël 2:32; Hand. 2:21.

Artikel 28 ELKEEN IS VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT

Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van
hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand,
wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie
vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby
aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te
bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy
leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te
buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in
die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit
volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hufle af te
skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié
vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou
regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood-
of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk
afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.

Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28; Jes. 49:22; 52:11-12;
Hand. 4:17, 19; Heb. 10:25; Op. 17:2; Hand. 17:7; 18:13.

Artikel 29 DIE KENMERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK

Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van
God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die
sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk
toeeien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die
goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle
uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die
gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer
dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan
uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek,
die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die
kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal
hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee
in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.
Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die
reg om hom daarvan af te skei nie.

Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan
die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die
enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die
sonde ontvlug, die geregtigheld najaag, die ware God en hulle naaste
liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy
werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in
hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van
hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die
bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus
Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes
het.

Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag
en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk
van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus
dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie
goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg
hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk
oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.

Herdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt.
28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1;
Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom.
7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.

Artikel 30 DIE REGERING VAN DIE KERK

Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse
wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet
naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en
die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die
herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra
dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die
oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en
bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie
wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer
betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die
apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Tim. 3).

1 Kor. 4:1-2; 2 Kor. 5:19; Joh. 20:23; Hand. 26:18; 1 Kor. 15: 10; Matt.
5:14; Luk 10:16; Gal. 2:8; Tit. 1:5; 1 Tim. 3.

Artikel 31 DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK

Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die
diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van `n wettige
verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in
goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë
daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy meet wag
totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees
en sekerheid kan hê dat dit van God kom.

Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter
plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle
almal dienaars van Jesus Christus is – die enigste algemene Opsiener en
die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die
heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen
vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk
besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sover
moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet
saamleef.

Hand. 6:3-4; 1 Tim. 4:13; Hand. 1:23; 13:2; 1 Tim. 5:22; 1 Kor. 12:28;
Rom. 12:8; 1 Tim. 4:14; Matt. 18:26; 1 Kor. 3:8; Rom. 12:7-8; 2 Kor.
5:19; Hand. 26:18; Jes. 61:1; Ef. 1:22; Kol. 1:28; 1 Tess. 5:12-13; Heb.
13:7,17.

Artikel 32 DIE ORDE EN TUG VAN DIE KERK

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed
om onder mekaar ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van
die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af
te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.

En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense
sou wil invoer om God te dien en om, op watter martier ook al, die
gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat
kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in
gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles
wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

1 Kor. 7:57; Kol. 2:6-7; Matt. 15:9; Jes. 29:13; Gal. 5:1; Rom.
16:17-18; Matt. 18:17; 1 Kor. 5:5; 1 Tim. 1:20.

Artikel 33 DIE SAKRAMENTE

Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid
rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons
te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en
om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van
die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te
stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons
hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit
is immers sigbare tekens en seëls van ‘n inwendige en onsigbare saak, en
deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees.
Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of
te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder
wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met
die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het
en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en die heilige
nagmaal van Jesus Christus.

Rom. 4:11; Gen. 9:13; 17:10-11; Eks. 12; Kol. 2:11; 1 Kor. 5:7; Matt.
28:19; 26:26; Rom. 10:9; Kol. 1:11; 1 Pet. 3:20; 1 Kor. 10:2.

Artikel 34 DIE HEILIGE DOOP

Ou glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom.
10:4), deur sy bloed te stort ‘n einde gemaak het aan elke ander
bloedvergieting wat ‘n mens tot versoening of voldoening van die sondes
sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis wat met bloed gepaard
gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop
ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van
alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy
eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot
‘n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het
Hy beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam
van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matt. 28:19).

Hy toon ons daarmee dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas
as dit oor ons gegiet word, en soos die water op die liggaam van die
dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so
bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde
inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy
sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God
weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel
deur die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons
Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê
die duiwel, te ontkom en om in die geestelike land Kanaän in te gaan.
Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament dit wat
sigbaar is, maar ons Here gee wat deur die sakrament aangedui word,
naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit
van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit
met alle vertroosting; Hy gee ons egte sekerheid van sy Vaderlike
goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens
en al sy werke.

Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal
gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook
nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank
die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe.
Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is
met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien
ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo
daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die
verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde
beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik,
Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se
kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die
teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen
het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte
deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus
deur vir hulle ‘n lam te offer, wat ‘n sakramentele heenwysing na Jesus
was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die
besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die
heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol. 2:11).

Matt. 28:19; 1 Kor. 6:11; Tit. 3:5; Heb. 9:14; 1 Joh. 1:7; (Op. 1:5); 1
Pet. 1:2; 2:24; 1 Joh. 5:16; Joh. 19:34; Matt. 3:11; 1 Kor. 3:7; Rom.
6:3; Ef. 5:26; Hand. 22:16; 1 Pet. 3:21; Gal. 3:27; 1 Kor. 12:13; Ef.
4:5; Heb. 6:1-2; Hand. 8:16; 2:38, 41; Matt. 19:14; 1 Kor. 7:14; Gen.
17:11; Kol. 2:11; Lev. 12:6.

Artikel 35 DIE HEILIGE NAGMAAL

Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die
heilige nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou
wat Hy reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou
het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en
tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat
alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee
word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die
gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in
hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot
instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en
gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self,
aan almal. Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges
besit, in stand te hou het Hy vir hulle ‘n lewende brood gestuur wat uit
die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou
die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur
die geloof geestelik toegeeien en ontvang word. Om hierdie geestelike en
hemelse brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood
as ‘n teken van sy liggaam en wyn as ‘n teken van sy bloed ingestel.

Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament
ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit
daarna ons lewe in stand hou, net so waarlik ontvang ons vir ons
geestelike lewe in ons siele deur die geloof – dit is die hand en mond
van ons siel – die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons
enigste Verlosser.

Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy
sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat
Hy vir ons deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons
verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos
die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog
dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie
en natuurlike hggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die
manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees
deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy
Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan
Homself deel te laat hê nie.

Hierdie feesmaal is ‘n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al
sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van
sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme
troostelose siel as ons sy liggaam eet, en Hy verkwik en herstel dit as
ons sy bloed drink.

Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is,
bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die
goddelose mens ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy
ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon
die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat
daardeur voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee.

Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met
eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging
‘n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou
en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen.
Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik
ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy
van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor. 11:29).
Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot ‘n
vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle
brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg
en daarmee vermeng het, as ondieiligings daarvan. Ons verklaar dat ons
tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons
geleer het, en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.

Matt. 26:26; Mark. 14:17; Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24, 28; Joh. 3:6; 10:10;
5:25; 6:48, 51, 63; 1 Kor. 10:16, 27; Ef. 3:17; Joh. 6:35; Hand. 3:21;
Mark. 16:14; Matt. 26:11; 1 Kor. 10:3-4; 11:29; Rom. 8:22; 2 Kor. 6:15; 1
Kor. 2:14; Hand. 2:42; 20:7.

Artikel 36 DIE BURGERLIKE OWERHEID

Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike
geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil
dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word,
sodat die losbandigheld van die mense in bedwang gehou kan word en alles
onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid
die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en
die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die
staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die
heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse
godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te
vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van
die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en
gedien word soos Hy in sy Woord beveel.

Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook
al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal,
aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles
wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir hulle voorbidding
te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons
in alle godsvrug en eerbaarheid ‘n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim.
2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in
die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en
die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van
goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het,
versteur.

Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19;
17:16; 2 Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan.
2:21-22; (5:8); Jes. 49:23; 2 Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk
22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand. 4:17-19; Hand. 2, 5; Hos.
5:11; Jer. 27:5; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2.

Artikel 37 DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE

Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat,
wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het – dié tyd is vir alle
skepsels onbekend – en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons
Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal
kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om
Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy
hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan
sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die
basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin
van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie
groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die
aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam
waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die
ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid
onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die
dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld
gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal
rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt.
12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en
dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar
voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en
goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en
uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing
voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding
wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle
sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses
wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar
die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning
van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om
gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele
voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen,
sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam
voor God, sy Vader (Matt. 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle
trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4). Dan sal dit bekend word
dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en
goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n
beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat
die hart van ‘n mens nooit kon bedink nie.

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes
van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

AMEN

Matt. 13:23; 25:13; 1 Tess. 5:1-2; Matt. 24:36; Op. 6:11; Hand. 1:11; 2
Pet. 3:10; Matt. 24:30; Op. 21:11; Matt. 25:31; Jud. 1:15; 1 Pet. 4:5; 2
Tim. 4:1; 1 Tess. 4:16; 1 Kor. 15:51; Matt. 11:22; Mark. 12:18; Matt.
23:23; Joh. 5:29; Rom. 2:5; Heb. 6:2; 9:27; Matt. 12:36; 2 Tess. 1:5;
(Heb. 10:27); 1 Joh. 4:17; Op. 14:7; Luk. 14:14; 2 Kor. 5:10; Op. 21:8;
22:12; Dan. 7; Matt. 25:41; 2 Pet. 2:9; Jes. 25:8; Matt. 10:32; Op.
21:4; Jes. 66:5; 1 Kor. 2:9.